Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles

Heart image – Pixabay

Gisteraand laat sit ek en ponder en wonder ek oor my lewe en waarnatoe ek nou eintlik op pad is. Wat ek uit die lewe en liefde wil hê.

In my kop is die woorde “die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles”, maar ek kan om die dood nie onthou waar in die Bybel dit staan nie en ek kan ook nie my Bybel kry om dit op te soek nie. In my gedurige geveg na spasie het ek verlede week my Bybel iewers anders gebêre. Ja ek weet, ek behoort my te skaam dat ek Korintiers 13, een van die bekendste verse in die Bybel nie kon onthou nie, en ook dat spasie vir my belangriker geword het as die Bybel langs my bed. Maar dit daar gelaat.

In my soektog na die Bybel kom ek op my joernaal af wat my ma jare gelede vir my gegee het. ‘n Pragtige Chinese geel buiteblad, met takke en blare geskilder in rooi, groen en goud. Vir aan en af periodes tussen 2005 en 2007 het hierdie joernaal my toevlug geword wanneer dinge te veel geword het in my verhoudings met familie, vriende, die oppervlakkige mans in my lewe en die wêreld as geheel. Hier het ek uiting gegee aan my soeke na “ware liefde”, die tipe wat nie net op die uiterlike ingestel was nie. Die tipe wat die toets van die tyd sou kon deurstaan.

Ek ontmoet in 2005 ‘n pragtige gelowige man. Eers gaan alles goed en beweeg dinge in ‘n goeie rigting in, totdat ek begin moed verloor en twyfel. Gisteraand vir die eerste keer toe ek my woorde herlees, sien ek duidelik hoe ek tot die kwyn van iets baie moois bygedra het, omdat my selfwaarde te laag was. Hoe meer ek getwyfel het, hoe meer het hy heel moontlik getwyfel, dis gewoonlik wat gebeur. Ek was gefokus op my ver van perfekte uiterlike, die agt jaar wat ek ouer as hy was, die oppervlakkige verskille in hoe ons die lewe sien, die wêreld om ons wat vir ons gesê het ons kan nooit werk nie. Nou verstaan ek dat hierdie verhouding in voorbereiding was vir my lewe in die hede en die toekoms.

Dis so maklik om te glo ons verdien nie die dinge wat andere om ons het nie. Baie van ons voel anders of is daadwerklik anders. Dit maak nie saak nie, ons het almal dieselfde waarde voor God. Ek glo dat as ons dit met ons hele hart glo, val die res in plek.

Ek glo meer as ooit te vore aan onvoorwaardelike liefde, liefde wat vir ander ‘n voorbeeld kan wees, ‘n lig kan help skyn in die donkerte om ons. Die regte liefde kan ons help om berge te versit. ‘n Liefde wat veel meer as uiterlike attraksie behels. Dit gebeur bitter min, maar dit gebeur. Ek is bereid om vir so ‘n liefde te veg!

Gisteraand sien ek op Facebook dat een van my ouers se ou vriende oorlede is. Hy het nie baie lank bly leef na sy vrou se dood nie. Ek glo eerlik nie dat die lewe sonder haar vir hom meer lekker was nie. Hulle was baie lief vir mekaar al die jare wat ek hulle geken het en het as voorbeeld gedien vir almal om hulle. Hulle moes saam een volwasse dogter lank voor haar tyd aan die dood afstaan. Nie een van die twee sou enige wêreldse skoonheid wedstryd kon wen nie. Hy was kort en rond met bakore en ‘n knopneus en het aan diabetes gely. Sy was ‘n doodgewone vrou wat ook veels te veel kilos rondgedra het volgens die wêreld. Op die ou einde het sy het Alzheimers gekry en hy het haar liefdevol versorg tot die einde toe.

Dis die tipe liefde waaraan ek vasklou, liefde wat alles kan oorbrug met God se hulp.

Nie altyd maklik nie, baie keer is daar pyn aan verbonde, maar ek glo dis moontlik. As mens, gaan jy by tye faal, die verkeerde dinge sê, verkeerde dinge doen, terleurstel by tye. Dis die aanhou en uithou en weer probeer met liefde, vrede en genade wat saak maak.

As jou fokus meestal op die uiterlike is, is daar altyd ‘n volgende persoon wat jy kan nader hark. As jy glo aan ware liefde, is jou keuses baie minder. Jy ontmoet miskien een of as jy baie gelukkig is twee keer in jou lewe iemand wat jou hele lewe kan verander in iets werklik sinvol en sielverrykend.

Partykeer skryf ek lawwe stories oor die liefde, soos die een van ‘n paar dae gelede, maar in my hart is dit waaraan ek bly vasklou, dat ware liefde alles oorbrug. Met God se hulp is alles moontlik.

Ek het nie meer ‘n daadwerklike lysie van wat ek in ‘n man soek nie, dis nou ‘n interne kompas wat weet wanneer iets reg is.

Ek verstaan die verskille tussen mans en vroue beter. Gelyk maar anders geskep, met swakhede en sterker punte waarvoor die ander party opmaak. Beide partye moet kan gee en ontvang en bereid wees om aan die verhouding te bly werk. ‘n Maat om ons lewe mee te deel, lank nadat die seksuele sy miskien tot niet is.

Saam soveel sterker, beter en wyser.

Sielemaats, bymekaar gebring vir ‘n rede, deur God gemaak vir mekaar!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Copyrighted Image