Wat kan ons leer uit die verhaal van La Loba, die wolf vrou? 

Wolf and moon. Pixabay – Comfreak

Jy leef jou lewe, jy het vreugde, jy het verdriet, jy wen, jy verloor, jy beweeg vooruit, jy glo jy is op die regte pad, die pad wat almal maar stap. Dan eensklaps (of so glo jy op daardie stadium), begin dinge swart raak om jou. Die pyn word meer as die vreugde. Alles is in chaos, geen antwoorde of uitkoms kom nie. Jou lewe sak ineen, totdat jy nie jouself of die mense om jou herken nie. Totdat min oorbly van wie en wat jy was. Jy, die jy wie jy was, sterf ‘n stadige en pynlike dood. Jy kan op hierdie stadium die dood verbete probeer veg, hierdie fase langer laat duur as wat nodig is of jy kan aanvaar en dinge laat wegval wat moet wegval. Jare later kyk jy terug en jy sien dat al die tekens daar wees. God het hulle oor en oor vir jou gestuur, in drome, in bybelversies wat oor en oor verskyn, mense wat jou probeer waarsku het. Jy is rigtingwysers gegee om jou op ‘n beter pad te kry, maar jy was siende blind en horende doof.

Die volgende fase kan dae, weke, maande of jare vat, afhangende van omstandighede, maar ook hoe vinnig jou innerlike La Loba ontwaak (die wysste, ongeskende gedeelte van jouself wat jou liedjies bewaar). Innerlike vuur, daardie oorlewings drang binne in ons, help om ons om na hoop uit te reik. Eers is dit stadig en weifelend. Jy het nie veel krag nie, jy val gedurig terug, maar jy klou vas aan die brokkies hoop, die brokkies jy. Die ware jy! Jy onthou wie jy was of wie jy veronderstel was om te wees, jou onthou jou liedjies, die liedjies wat net jy kan sing. Stuk vir stuk rangskik jy die bene totdat die hele wolf karkas voor jou lê. Dit gebeur nie eensklaps nie, die meeste van die pad loop jy in ‘n diep donkerte, jy voel-voel jou weg deur hierdie fase.

Daar is natuurlik vele wat in die donkerte tas vir ‘n baie lang tyd. Hulle gryp vas aan die verkeerde dinge, vind oppervlakkige vreugde in die dinge van die wereld, blink liggies, verkeerde mense, verkeerde scenarios, wat hierdie fase vertraag en soveel langer en meer pynlik maak. Ander word verewig hier vasgevang. Die pyn van groei en verander, die ego laat gaan, erkentlik wees, jou lesse herken en leer, jou lewe vierkantig in die oe kyk is te moeilik.

Die volgende fase is meer draaglik maar kan ook meer pynlik voel by tye. In die vorige fase was jy waarskynlik afgestomp, nou begin jy wakker word. Jy groei vleis, sening, spiere, vel, hare. Dit maak seer, groei maak altyd seer. Jy sien, hoor en voel alles soveel duideliker. Jy sien die lig aan die einde van die tonnel, jy besef hoe ver jy nog het om te gaan en jy raak ongeduldig. Jou persoonlike kragte groei, jy voel veel sterker en meer “jy” as wat jy ooit van te vore gevoel het. Dit voel goed en reg. Jy begin jou liedjies helder en duidelik sing, jou vrees lê jou nie meer soveel aan bande nie. Jou liedjies bring welkome genesing.

En dan, finaal, begin jy asem skep. Jou lewe voel ligter, helder. Jy voel tuis in jou eie vel, jy verstaan wie jy is. Jy lag vinniger en makliker. Jy is finaal jy. Nie perfek nie, nee. Geen lewe is perfek nie, maar jy is waar jy hoort.

Meer as dit kan ek jou nie vertel nie, ek het nog ‘n paadjie om te loop. Ek ken min mense wat die finale fase bereik het, maar ek het meer moed as ooit tevore om daar uit te kom.

Ek hoop ek sien elkeen wat hier lees binnekort saam met my daar!

In more se blog pos gaan soek ek na my eie essens.

2 Comments on “Wat kan ons leer uit die verhaal van La Loba, die wolf vrou? 

  1. Dit is ongelooglik, jy het n wonderlike gawe. Dankie dat jy dit met ons deel !! Lovies xx

    • Dankie tannie Poppie, ek is baie bly as iemand waarde kan put uit wat ek doen xxx

Leave a Reply to Poppie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Copyrighted Image