Somtyds

Somtyds pols my hart met die ritme, kleure en klank van ‘n sigeuner, helder, gloeiend, rasend-dansend met armbande klingelend om ‘n warm vuur. Onnutsig, tartend, uitdagend.

Somtyds treur my dorstende, gekwelde hart in mistig-grys minieur tone soos ‘n violis wat na sy tuisland hunker. Somber, vuur-gedoof, klein.

Somtyds net vir ‘n oomblik gluur my opstandige middel-vinger hart die wêreld aan soos ‘n papegaai-lyf beskilderde, mohawk draende, geringde metaal-rebel. Wantrouig, verwyderd, woedend.

Meestal kabbel my hart ‘n sagte, blaartjie groen deuntjie. Omhels die wêreld, myself, alles so perfek en reg geskape. Alle mense word my mense, alles word een. Vreugdevol, vredevol, liefdevol, bly.

Ver, naby, misverstaan, kwaad.

Reëlmatig altyd-ewigdurend, bons die diepste mooiste sagste kavernes van my hart vir jou.

Ek nooi jou binne, jy is my hart se maat.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Copyrighted Image